INLIGTINGSENTRUM

 

REKENAARAFDELING

 

Mikro beskik oor ´n netwerk met 40 rekenaars in ons inligtingsentrum.  Hier woeker ons met projekte, take en huiswerk!!  ´n Skandeermasjien (scanner) en twee drukkers is tot die leerders se beskikking.  Ons beskik ook oor ons eie, unieke Intranet waarop inligting geplaas word wat van toepassing is op ons leerders se skoolwerk.  Daar word nie slegs skoolwerk hierop geplaas nie, maar ook inligting rakende interessante gebeurtenisse in ons wêreld!  Elke klas word die geleentheid gebied om een maal per week die sentrum te besoek en onderrig hier te ontvang.  Dan word hulle weggevoer in ´n wêreld van tegnologie, waar ´n besoek aan 'n kasteel of selfs die ruimte slegs ´n muiskliek vêr is!

 
BOEKAFDELING

     

Laerskool Mikro het ´n uitgebreide boekafdeling wat goed toegerus is met naslaanbronne, vaklektuur en verhalende lektuur in Afrikaans sowel as Engels.  Leerders gebruik dit wanneer hulle inligting soek vir take en om te lees vir genot.  Die Burger is elke dag tot die leerders se beskikking, sodat hulle insae kan hê in die dag se nuusgebeure.  Ons het ´n fotostaatmasjien waar leerders fotostate uit boeke kan maak vir hul take.

Die inligtingsentrum is oop vir die uitneem en gebruik van boeke tydens eerste en tweede pouses.  Dit is ook Maandae tot Donderdae in die middae oop tot 15:30. Die mediaspan bestaan uit drie opvoeders waarvan een voltyds aan diens is en ´n groep mediaprefekte wat hulp verleen.

 

BOEKEWEEK 2019

FANIE VILJOEN BESOEK LAERSKOOL MIKRO TYDENS BOEKEWEEK

Laerskool Mikro het Boekeweek gevier vanaf 4 tot 8 Maart 2019.  Die hele week was daar heerlike LAPA-boeke deur Taberna verskaffers te koop.  Fanie Viljoen, bekroonde skrywer van verskeie kinder- en jeugboeke, het ons skool op Vrydag, 8 Maart besoek.  Hy word as een van die mees innoverende kinder- en jeugverhaalskrywers in Suid-Afrika beskou.   

Fanie het al verskeie toekennings vir sy boeke ontvang.  Ons het aan sy lippe gehang om meer te hoor van Lulu se mode-avonture.  Die wetenskapfiksie-lesers kan ook nie wag om hulle tande in die spannende Nova: Eindspel, laaste boek in die Nova-reeks, te slaan nie! Fanie Viljoen se boeke is aan die hele skool (graad R - 7) voorgelees deur graad 7-leerders. 

Op die foto v.l.n.r.: Mnre. Nico Walters (Oud-skoolhoof), Nico Siebrits (Adjunkhoof), Fanie Viljoen en Louis Mouton (Skoolhoof).

Die leerders van Laerskool Mikro is baie lief vir lees.

       
       
Die wenner van ons boekekompetisie vir Gr. 1 en 2, Charonique Smit.    Die wenner van ons boekekompetisie vir Gr. 3, Ewald Goussard.  
       
       
       
Die wenner van ons boekekompetisie vir Gr. 4 en 5, Mieke Visser.   Die wenner van ons boekekompetisie vir Gr. 6 en 7, Lauren Westenberg.