Ons Skool
Laerskool Mikro het sy deure in Januarie 1972 geopen met mnr. Ronnie de Bruyn as eerste skoolhoof. Die skool het met 296 leerders en 12 opvoeders begin. Die skool is deur die Onderwys-departement as ‘n Afrikaans enkelmedium skool geregistreer en is op 12 Oktober 1972 amptelik deur mnr. Fanie Theron, die onderwyshoof, geopen.
Die skoolgemeenskap het die skool vernoem na C.H. Kühn, in lewe ‘n inwoner van Kuilsrivier, die skoolhoof van Hoërskool Kuilsrivier (tans Hoërskool De Kuilen) en ‘n bekende skrywer van meer as 100 jeugverhale onder die skuilnaam MIKRO. Die versameling boeke wat uit sy pen verskyn het, word in die “Mikrokas” by die skool bewaar.
Groeiende leerdergetalle het aanbouings in 1984 (huidige gr. R, 1, 2 vleuels), 1994 (twee klaskamers bokant Mikrotique klerewinkel), 2008 (‘n klaskamer bokant die gr. R vleuel) en 2009 (Wag ‘n Bietjie veilige onderdak wagplek) tot gevolg gehad.
Gebou veranderinge het in 1997 (omskakeling van laboratorium, kunsklas, naaldwerklokaal tot klaskamers), 1998 (omskakeling van die biblioteek tot ‘n inligtingsentrum (boekafdeling/rekenaarlokaal), 2001 (vestiging vir gr. R onderrig), 2003 (Langverwagt Sport/Kultuurlokaal) en 2010 (alle klaskamers van dataprojektor /rekenaar voorsien) plaasgevind om aan leerder-behoeftes te voldoen.
Terreinveranderinge/verbeterings het ook periodiek plaasgevind. ‘n Tweede rugby-/ hokkieveld en vier tennisbane is in 1982 gevestig. In 2001 is die skoolterrein aan die suidekant uitgebrei om voorsiening vir ‘n Gr. R-speelterrein te maak en in 2013 is addisionele grond (openbare park) bekom om drie krieketnette te vestig.
Feesvierings om sekere mylpale te herdenk het nie agterweë gebly nie. Die 10de bestaansjaar is in 1982 gevier met die verskyning van ‘n feesblad en die opvoer van ‘n operette. Die skool se mondigwording is op 25 Maart 1993 met ‘n huldigingsgeleentheid ter ere van C.H. Kühn (skuilnaam MIKRO) gevier. Die aand se verrigtinge het bestaan uit kreatiewe skryfwerk deur leerders, die bekendstelling van ‘n boek “Die Lewe en Werk van Mikro in Kuilsrivier” en die bekenstelling van sy persoonlike besittings, foto’s en boeke.
Die 25ste (1997), 30ste (2002) en 40ste (2012) bestaansjare het elk met groot feesvieringe (bekendstelling van feesembleme, aktiwiteite vir leerders, oud-skoliere, ouers/oud-ouers, huidige/oud-personeellede, kerkbyeenkomste, feeskonserte) gepaard gegaan om tradisie te skep.
2005 was ‘n waterskeidingjaar toe die ouers hul tot die Hooggeregshof en Appélhof moes wend om die skool se Afrikaansmedium onderrigstatus te behou.
Laerskool Mikro wil graag bekend staan as ‘n waardegedrewe skool. Daarom vorm ‘n stel goeie waardes vir baie jare deel van ons skool se daaglikse bedrywighede. Ons fokus veral op die volgende:
M | Mededeelsaamheid |
I | Integriteit |
K | Kreatiwiteit |
R | Respek |
O | Omgee |
Ontwerper: Dr. C. Pama
Simbole:
Hoewel letters nie in wapens gebruik word nie, is daar in Europa, en veral in Duitsland, die neiging om ‘n heraldiese figuur te gebruik wat sprekend is en aan ‘n letter herinner. Om hierdie rede is die skild hoekig in drie verdeel, wat ‘n soort M (Mikro) voorstel. Hieraan is ‘n skildhoof toegevoeg en daarop ‘n skryfveer (verwysing na die skrywersberoep van Mikro) en twee heraldiese fonteine (‘n toespeling op die naam “Cuylen”).
Werk en skep, Werk en skep
Dis die leuse van ons skool
Met ons visiere vér gestel
wil ons elke skooldag nader.
Dat ons aan ons leuse
reg kan laat geskied.
Waar ons aan ons leuse
Reg kan laat geskied.
Waar ek gaan of my begewe
Wil ek trots opreg en eerlik
my beskeie deeltjie bydra
tot ons leuse werk en skep.
Posbus 53
Spruitstraat
Kuilsrivier
7580