Inligtingsentrum

Akademie

Die Nico Siebrits Inligtingsentrum


REKENAARAFDELING

Laerskool Mikro beskik oor ´n netwerk met 38 rekenaars in ons inligtingsentrum. Hier woeker ons met projekte, take en huiswerk!! ´n Skandeermasjien (scanner) en twee drukkers is tot die leerders se beskikking. Ons beskik ook oor ons eie, unieke Intranet waarop inligting geplaas word wat van toepassing is op ons leerders se skoolwerk. Daar word nie slegs skoolwerk hierop geplaas nie, maar ook inligting rakende interessante gebeurtenisse in ons wêreld. Elke klas word die geleentheid gebied om een maal per week die sentrum te besoek en onderrig hier te ontvang. Dan word hulle weggevoer in ´n wêreld van tegnologie, waar ´n besoek aan ‘n kasteel of selfs die ruimte slegs ´n muisklik vêr is! Ons graad 6- en 7-leerders het elk ‘n Microsoft Office 365-lisensie wat hulle toegang gee tot Microsoft Outlook, Word, Excel, PowerPoint, OneNote, SharePoint en vele ander produkte.


BOEKAFDELING

Laerskool Mikro het ´n uitgebreide boekafdeling wat goed toegerus is met naslaanbronne, vaklektuur en verhalende lektuur in Afrikaans sowel as Engels. Leerders gebruik dit wanneer hulle inligting soek vir take en om te lees vir genot. Die Burger is elke dag tot die leerders se beskikking, sodat hulle insae kan hê in die dag se nuusgebeure. Ons het ´n fotostaatmasjien waar leerders fotostate uit boeke kan maak vir hul take.


NB: VOOR COVID-19

Die inligtingsentrum is oop vir die uitneem en gebruik van boeke tydens eerste en tweede pouses. Dit is ook Maandae tot Donderdae in die middae oop tot 15:30. Die mediaspan bestaan uit drie opvoeders waarvan een voltyds aan diens is en ´n groep mediaprefekte wat hulp verleen.
NB: TYDENS COVID-19 M.A.W. OP DIE OOMBLIK/HUIDIGLIK
Weens COVID-19 protokol vind die uitneem van boeke nie na skool in die inligtingsentrum plaas nie, maar wel gedurende klastyd.


BOEKEWEEK

Daar word elke jaar ‘n boekeweek aangebied. Tydens hierdie gebeurtenis vind boekverkope plaas en besoek ‘n kinderboekskrywer die skool.
2021: Aanlyn a.g.v. COVID-19
2019: Fanie Viljoen. Hy word as een van die mees innoverende kinder- en jeugverhaalskrywers in Suid-Afrika beskou. Fanie het al verskeie toekennings vir sy boeke ontvang. Ons het aan sy lippe gehang om meer te hoor van Lulu se mode-avonture. Die wetenskapfiksie-lesers kan ook nie wag om hulle tande in die spannende Nova: Eindspel, laaste boek in die Nova-reeks, te slaan nie! Fanie Viljoen se boeke is aan die hele skool (graad R – 7) voorgelees deur graad 7-leerders.
Skrywers wat ons skool al besoek het sluit in: Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Wendy Maartens, Carina Diedericks-Hugo, Theresa van Baalen, Janie Oosthuizen en Mariana Brandt.