Eisteddfod

Buitemuurs

Natasha Marais

“Woeker met talente”

Leerders neem jaarliks aan die Tygerberg- asook Stellenbosch Eisteddfod deel. Inskrywings word in verskeie afdelings gedoen.

Leerders ontvang die geleentheid om met hul nagtegaal stemme deel te neem aan solosang waar hulle voorgeskrewe, sowel as liedere van hulle eie keuse sing.

Die boekwurms spog ook met hul leesvermoë tydens onvoorbereide lees.

Die leerders met goue penvere in hul hande geniet die skeppende skryfwerk asook die poësie-afdeling. Ons Afrikaans- en Engels Eerste Taal leerders neem graag aan albei deel. Diegene wat kan spog met ‘n netjiese handskrif ontvang ook die geleentheid om as uitvoerprodukte vir Mikro op te tree.

Dramaleerders se kreatiewe talente kan blootstelling geniet tydens die voordra van gedigte asook prosa. Ons skool se redenaarsleerders geniet dit ook om hul voorbereide en onvoorbereide toesprake tydens die Eisteddfod te lewer.

Die vlytige klavierleerders ontvang die geleentheid in verskillende afdeling met hul talente te spog.

Elke leerder ontvang individuele afrigting om sy maksimale potensiaal te bereik.

Die kunsleerders wat agter die skerms met hul talente woeker, ontvang ook die geleentheid om met hul kunswerke te spog.

Die jaarlikse Eisteddfod bied die geleentheid vir leerders om uit te blink in kultuur en te verseker dat hul talente nie onder ‘n maatemmer weggesteek word nie. Leerders word aangemoedig om verder as kunstenaars te groei deur aan verskillende Eisteddfods deel te neem. Dis ’n ideale manier om selfvertroue onder jongmense op te bou. Jaarliks neem daar talle skole en organisasies deel, dus is dit ’n enorme platform om deelnemers se liefde en kultivering vir die kunste aan te moedig.

Elke drie jaar bied die skool hul eie kultuurfees aan wat bekend staan as die “Jongtongfees”. Eisteddfod leerders kry die geleentheid om deel te vorm van ‘n kultuurweek propvol optredes wat deur die gemeenskap bygewoon word. So word Mikro se spogbeker blink gevryf met die uitvoerprodukte van die kunste.