Boekeweek

Laerskool Mikro beleef ‘n suksesvolle boekeweek

Laerskool Mikro se kinders hou van lees.  Ons maats het vanjaar reeds meer as 4950 boeke gelees!  Om hierdie rede was dit ‘n hoogtepunt om die derde kwartaal van vanjaar met ‘n Boekeweek af te skop vanaf 1 tot 5 Augustus 2022.  Die hele week was daar boeke deur Taberna verskaffers te koop.  Ons het ‘n speurder-tema gehad en al die prefekte het volgens die tema aangetrek.

Die skool se inligtingsentrum bestaan uit ‘n biblioteek en rekenaarsentrum.  Aan die einde van 2020  is die sentrum na mnr. Nico Siebrits, oud-adjunkhoof van die skool, vernoem.   Op Dinsdag, 2 Augustus 2022 het ‘n “boeketee” plaasgevind waartydens ‘n spesiale gedenkplaatjie, met die nuwe naam van die inligtingsentrum daarop, onthul is.   Mnr. Siebrits het ‘n groot rol in die skep en ontwikkeling van die lokaal gespeel.  Sy visie het gemaak dat die leerders van Laerskool Mikro,  steeds vandag uitstekende blootstelling aan die wêreld van die inligtingstegnologie kry. 

Lees is baie belangrik in Laerskool Mikro.  Op Woensdag, 3 Augustus is ‘n boek van Jaco Jacobs in al die klasse in die skool voorgelees – vanaf Graad R tot 7.  Wat hierdie voorlesing besonders gemaak het, was dat die voorlesers sommige van ons eie graad 7-leerders was. 

Om Boekeweek af te sluit op Vrydag, 5 Augustus, kon alle leerders soos hul gunsteling boekkarakter aantrek – dit was vet pret!  Die onderwysers het gewys dat hulle vir niemand terugstaan nie en het ook soos hul gunsteling boekkarakters aangetrek.  Die leerders het dié week vreeslik geniet.