Fees 50-Langtafel

 ’n Aand van liggies, lag en lekker gesels

Op 12 Oktober 1972 is ‘n juweel genaamd Laerskool Mikro in Kuilsrivier “ontgin” en 50 jaar later is dit steeds so sprankelend soos die 50 jaar te vore. Op 12 Oktober 2022 het Laerskool Mikro hul vyftigste verjaarsdag met hul eerste Langtafel gevier. Gaste is verwelkom deur feestelike ballonne, ‘n wit tapyt en wapperende wit gordyne.

‘n Heerlike glasie glühwein, in ‘n Fees 50-herdenkingsbekkertjie, het elke gas met ‘n huppel in hul stap gelaat. Die toneel wat hulle daarna begroet het, was soos iets uit ‘n sprokiesverhaal met liggies so ver as wat die oog kan sien en pragtige musiek gespeel deur die skool se eie musiekleerders.

Die huidige skoolhoof, Meneer Louis Mouton tesame met die adjunkhoof, Mevrou Annarie Spreeth, het beslis die gaste baie welkom laat voel. Dit was ‘n groot voorreg om die oud-skoolhoof, Meneer Nico Walters en sy vrou as spesiale gaste by die spoggeleentheid te verwelkom. Vele ouers, oud leerders wie se kinders self nou in die skool is, oud en huidige beheerliggaamlede, oud en huidige onderwysers was teenwoordig. Gelukkige trekkings het vele harte bly gemaak wat deur Afriforum en Realtors geskenk is. Die kos, gemaak deur `n oud-leerder, Christiaan Prins van Del Monté was uit die boeke en die optrede deur Ruben Gerrits, ook `n ou-leerder van Mikro, was van hoogstaande gehalte en het almal in die regte luim geplaas. Hierdie aand was beslis een wat vir ewig in die harte en geheue van ons gaste sal bly – sowel as op hulle sosiale media.

Die lug is gevul met die gelag en gesels van oud en nuwe vriende; met oud stories en goeie herinneringe. Baie geluk Laerskool Mikro!!!

Mag die volgende 50 jaar net so voorspoedig wees.